Order your wine online

 

Viognier 2009

RMB WineX Cape Town Best Wine on Show - Top Ten white wines voted for by attendees

In The Press

DIE BURGER - OP DIE TAFEL: Maureen Joubert 09/10/2003

Cotage Fromage, interseksie van die Klapmutspad en die R45, Simondium. 021 874 3991.

Cotage Fromage is in alle opsigte ´n kaashuis – vir kaas koop, eet en snuisterye aanskaf vir die voorsit van kaas. Dit spog met sowat 100 kaassoorte, plaaslikes sowel as ingevoerdes.

´n Mens kan die plek ook as ´n luukse padstal besoek, waar olyfolie, olywe, ingelegde lekkernye, songedroogde tamaties en gepekelde brinjals beskikbaar is.

Vir baie mense van die Paarl en Franschhoekgebiede is dit ´n besonderse eetplek, veral as die dag van somer sing en jy buite wil wees. Maaltye word voor op die historiese gebou se stoep sowel as onder skadubome buite voorgesit, maar vir die koelte van wind of reën is daar die beskerming van binne sit.

Die gebou was die woning van Pierre Simond, die eerste Franse Hugenote–prediker, en maak tans deel uit van die nuwe Vrede en Lust–wynkompleks neffens die R45 tussen die Paarl en Franschhoek.

Dit was die omgewing sowel as die kaaslus wat ons vandeesweek na Cotage Fromage gelok het. Die spyskaart sluit egter baie meer as kaas in. Daar is stewige slaaie, diepgebraaide gorgonzola en springbok–carpaccio. Dan is daar ligte etes soos hoender in die cajun-styl, klein steaks en allerlei broodgeregte. Forel, steak, lamskenkels en -tjops en hoender-kerrie word as hoofgeregte aangebied, en daar is ´n spyskaart vir die kleingoed.

Maar ons soek toe kaas, sommer ´n lekker verskeidenheid wat ´n proegeleentheid gee. Dit nadat ons by die deli–toonbank rondgesnuffel het vir bykosse: olywe, gevulde pikantrissies, gevulde groen rissies, gemengde pekels wat die mond reeds laat water het.

Ons bord heet toe ewe deftig connoisseur-kaasbord en word opgedra saam met olywe, songedroogde tamaties met feta en gepekelde sampioene. Op bestelling kry ons 'n porsie van die met roomkaas gevulde pikantrissies, wat ´n treffer was: soet, sout en suur met volop kruiegeur.

Die bord het nege kaassoorte bevat, vars ciabatta, olyfolie en balsemiek-asyn daarby op die tafel. En ´n kaartjie wat mooi aandui watter kaassoort jy skep en in watter volgorde dit geëet moet word.

Die kaasseleksie het ´n Natalse bloukaas, verouderde fontina, ´n romerige een wat as Cape Choice aangedui is, verouderde cheddar, gruyere, pecorino in wyn verouder, Underberger, ´n netelrige een en vars, sagte bokmelkkaas bevat.

Kaas word hier met kennis en respek behandel. Die blokkies, wat elk meer as genoeg is vir twee, word teen die regte temperatuur en rypheidsgraad aangebied. Kaas op sy lekkerste en bykos wat uitstekend daarby pas. Jy eet proe–proe, met ´n slukkie wyn van die kelder langsaan of mineraalwater tussenin. Jy verwonder jou aan die groot verskeidenheid van geure wat die kaas ontwikkel het, die rykheid en soms die subtiliteit daarvan. En jy is trots daarop dat so baie van die kase plaaslike produkte is. ´n Hele aantal kaasborde is beskikbaar.

Aan die einde van ons kaassmullery was daar nie meer plek vir nagereg nie. Naas kaaskoek is daar ´n cambrini–brûlée, asook koek en roomys.

Vir dié maaltyd, wat ´n glas rooiwyn, mineraalwater en koffie ingesluit het, het ons sonder die fooi R133 betaal.

Cotage Fromage is daagliks van 08:00 tot 17:00 oop.