Loading...

What’s On

Vreeslose Vroue – soos gesien in Netwerk24

  • Post last modified:2025-08-18

Boerdery is in haar bloed, al het sy eers later van wingerd geleer

Annette Human, die veerkragtige wingerdboukundige by Vrede en Lust, het grootgeword op ’n plaas en dit, tesame met haar liefde vir die wetenskap, het dié beroep die perfekte keuse gemaak.

Vandat sy kan onthou, was sy nuuskierig.

“Ek kom uit ’n klein dorpie bo in die noorde, waar wynbou iets was waaraan niemand as ’n beroep gedink het nie. Dit het my gefassineer en ek moes meer uitvind,” sê sy.

Die impak van die mense om jou

Gewoonlik sê mense dat daar ’n spesifieke persoon is wat as ’n rolmodel op hul lewensreis gedien het. Annette sê egter sy het nie een persoon spesifiek gehad wat sy as mentor beskou het nie, want “daar was talle sulke mense”.

“Ek dink soos jy grootword, het elke liewe persoon in jou lewe ’n impak op wie en wat jy vandag is. Hulle almal vorm op die ou einde die pad wat jy stap en wie jy sal word.”

Uiteraard het haar ouers en grootouers ’n groot rol in haar lewe gespeel, nie soseer oor haar gekose beroep nie maar eerder haar menswees.

“Ek is gebore in ’n trotse familie, en ’n lang lyn van boere. Van vroeg af het ek al geweet boerdery is nie vir sissies nie! Maar ek dink my mense het my goed toegerus om dit sonder skroom aan te pak.

“Ek is geleer om my beste te gee in alles wat ek doen, om op te staan vir myself, om gaaf en dankbaar te wees, te help waar ek kan sonder oordeel, en absoluut voluit te lewe!”

“Annette was my kamermaat op universiteit. Sy speel van dag een af ’n onskatbare rol in my lewe, sowel professioneel as persoonlik. Sy inspireer my daagliks deur haar onwrikbare deursettingsvermoë en die passie waarmee sy alles aanpak. Wat my selfs meer beïndruk, is haar diepgaande begrip en respek vir elke persoon met wie sy te doen kry, by die werk of persoonlik. Van bo tot onder – almal tel en almal is belangrik. Haar vermoë om met empatie, simpatie, wysheid en respek te lei en dit altyd met grasie en nederigheid te doen, is iets wat ek opreg bewonder en respekteer.”

– Liezl Augustyn, Annette se beste vriendin.

Oomblikke van self-twyfel en onsekerheid kry haar nie onder nie

Sy beskryf haarself as ’n introvert en sê dis ongelukkig vir haar moeiliker om sekere dinge in groepe of voor groepe te doen.

“As ek moet delf vir selfvertroue en voor of tussen ’n klomp mense myself moet uitdruk, onthou ek net almal het ’n opinie en almal wil graag hê sy of haar stem moet gehoor word.”

Eerstens sorg sy altyd dat sy goed voorbereid is en alles mooi beplan.

“En dan plaas ek eerder my fokus op die mense om my, maak hulle gemaklik en gesels oor hulle, gooi ’n flou grappie in en vergeet totaal en al van die wantroue en angs binne myself.”

Stel grense en kry die beste uit die lewe

Annette sê laggend die woord “besig” is ’n onderbeklemtoning in dié bedryf.

“Die belangrikste is om grense daar te stel. Al woon ek op die plaas waar ek ook werk, is dit belangrik om die huis van die kantoor te skei.

“Sit die foon neer by die huis. Los die rekenaar in die kantoor en gaan doen goed saam met die familie buite die plaasraamwerk.

“Moenie op die plaas gaan draf nie, want dan sien jy alles wat fout is,” voeg sy grappenderwys by.

Seksisme steek maar kop uit

Sy het ongelukkig al geslagsgebaseerde diskriminasie ervaar, en ervaar dit soms nog steeds, sê sy.

“Ek neem dit glad nie persoonlik op nie. En ek sal my ook nie laat ontstel deur iemand wat nie die moeite werd is nie.

“Ek weet wie ek is; ek is nie hier om myself aan iemand te bewys nie, behalwe aan myself. Respek word verdien – of jy ’n man of ’n vrou is.”

Só bly sy gemotiveerd

Tydens moeilike tye sit en dink sy gewoonlik aan dinge waaroor sy dankbaar is.

“Dis baie eenvoudig – daar is ontsettend baie mense wat minder as jy het en jy kla oor of bekommer jou oor nonsens? My denke eindig altyd met hierdie sin.”

Die lewe is meer as net loopbaanprestasies

Annette sê sy is nie mal daaroor om oor haar professionele prestasies te praat nie. “Ek is eerder so trots dat ek twee gelukkige dogtertjies het, ’n man en familie wat my ondersteun, en dat ek op die mooiste plek op aarde kan woon en dit kan bewerk.”

As dit by haar doelwitte kom, is haar fokus tans gerig op haar gesin en om hulle die beste van haarself te gee.

“Uiteraard is my wingerd deel van my gesin,” voeg sy by.

“Ek sal graag in die toekoms nog my MBA wil doen. Ek dink dit is die finale stappie in my loopbaan. As ek dit het, tesame met my kennis, sal ek toegerus wees om ’n besigheid te kan bestuur.”

Raad wat sy wens iemand het haar vroeg gegee

“Leer met mense werk. Wees meer gedagtig aan hoe mense funksioneer en leer hoe om elkeen te hanteer. Op die ou end werk ’n mens meer met mense as met ’n gewas en jy wil beide laat groei vir ’n suksesvolle produk.”

Sy sê ook om te boer is een van die mees bevredigende beroepe wat jy kry, want dit word deel van jou en is ’n leefwyse.

Haar raad aan ander vroue? “Glo in jouself! As dit wat jy wil doen of alreeds doen jou bang maak, is jy tien teen een op die regte plek!”

Karlin Nel lei Vrede en Lust-kelder met styl én gesag

Karlin Nel (née Kleynhans) is ’n wynmaker en wynliefhebber in murg en been. Sy leef volgens die woorde: “Work hard in silence, and let success make the noise” en “Do small things with great love.”

Hierdie lewensfilosofie herinner haar daaraan dat die grootste impak dikwels in die kleinste dade skuil en dat alles wat jy aanpak met liefde en toewyding gedoen moet word.

Maar wie is dié merkwaardige vrou?

Karlin het in Pretoria grootgeword, maar het vir twee jaar van haar laerskoolloopbaan in Stellenbosch gewoon – ’n tyd wat haar liefde vir die natuur, mense en wynkultuur laat ontkiem het.

Sedert 2015 dien sy met trots as keldermeester by Vrede en Lust. Hier is sy nie net betrokke by die wynmaakproses nie, maar speel ook ’n aktiewe rol in uitvoer, bestuur en kreatiewe projekte wat die handelsmerk versterk en verder ontwikkel.

“Dit is vir my ’n voorreg om elke dag met passie en doel aan iets so mooi te werk,” sê sy.

Karlin vertel met trots dat haar ouma en ouers ’n blywende invloed op haar lewe gehad het. Hulle het haar geleer om trots te wees op haar werk, om vas te byt wanneer dinge moeilik raak, en om altyd eerlik en met integriteit op te tree.

“Hoewel niemand in my familie in die wynbedryf werk nie, het hulle my van die begin af ten volle ondersteun in my beroepskeuse. In die wynwêreld self was ek gelukkig genoeg om wonderlike mentors te hê; mense wat hul kennis vryelik met my gedeel het en my aangemoedig het om te groei.”

Hierdie ondersteuning het haar ongelooflik versterk, en sy probeer vandag dieselfde vir ander doen.

Waar haar passie begin het

Van kleins af het Karlin ’n sterk verbintenis met die natuur ervaar. “Ek onthou hoe ek as kind op my fiets deur die wingerde gery het, heeltemal betower deur die omgewing.” Haar liefde vir wyn het op natuurlike wyse hieruit voortgevloei en is versterk deur die passievolle mense wat sy ontmoet het, die verhale agter elke bottel wyn, en die gemeenskap wat rondom wyn gevorm word.

Wat haar die meeste geïnspireer het, is die feit dat ’n mens iets natuurliks – druiwe – kan omskep in iets betekenisvol, iets wat mense oor geslagte en generasies heen saam kan geniet en vier.

Hoewel die beroep harde werk verg, lê die beloning volgens haar in die kreatiewe vryheid en die impak wat dit op ander mense het.

“Ek en Karlin ken mekaar al van laerskool af, en wat ’n seën is dit nie dat sy oor my pad gekom het nie. Ons het saam deur al die fases van die lewe gegaan, en sy is al vir jare een van my grootste cheerleaders. Sy is iemand wat elke dag moed, integriteit en mededeelsaamheid beliggaam – nie net in haar werk nie, maar ook in hoe sy mense inspireer en ondersteun. Karlin is ’n inspirasie op soveel vlakke, en ek bewonder haar as mens opreg. Al is haar skedule vol en haar lewe dikwels veeleisend, maak sy altyd tyd om op die regte oomblik in te skakel en haar ondersteuning te bied waar dit nodig is. Sy weet altyd wat in ander se lewens aangaan en gee onselfsugtig van haarself, selfs wanneer sy self liefde en ondersteuning nodig het.”

– Tilida Jansen

Só bly sy geïnspireerd en kreatief

Karlin put inspirasie uit die klein dinge – ’n mooi etiket, ’n goeie gesprek, of ’n druiwetros wat perfek ryp is – en maak dan doelbewus tyd vir refleksie. “Dis in daardie stil oomblikke dat nuwe idees ontstaan. Ek glo ook dat gereelde reis, selfs net plaaslik, jou denke verruim en nuwe perspektiewe bring.”

Mense, gesprekke, stories en samewerking is ook groot inspirasiebronne vir haar.

Sy put verder kreatiewe krag uit die seisoene en die landskap rondom haar. “Ek probeer elke dag iets raak sien wat mooi of uniek is. Dis ’n daaglikse keuse om die mooi in die wêreld raak te sien.”

Sy is nie net ’n wynmaker nie, maar ook ’n kosliefhebber en reisiger. Wynproe en nuwe ervarings voed haar kreatiwiteit en bring inspirasie terug na die kelder.

Selfs groot uitdagings kan oorkom word

Een van Karlin se grootste uitdagings was om haar plek in die wêreld te vind. Nie net professioneel nie, maar ook persoonlik en geestelik.

“Ek het geleer om met oorgawe vir God te leef en Hom in alles eerste te stel. In die gejaag van die lewe verloor ’n mens soms maklik fokus en raak dan selfgesentreerd. Vir my was dit belangrik om telkens terug te keer na my oorspronklike doel: om in diens van iets groter as jouself te leef.”

In die wynbedryf was dit ’n stryd om as jong vrou ernstig opgeneem te word. Sy moes leer om haar stem te gebruik, op haar kennis te vertrou, en elke dag professioneel en konsekwent op te tree. “Ek het respek opgebou deur getrou te bly aan wie ek is, en deur my werk met liefde en trots te doen.”

Daar was tye waar sy bloot op grond van haar ouderdom en geslag nie ernstig opgeneem is nie. “Ek hanteer dit deur professioneel, konsekwent en kalm te bly – en my werk vir my te laat praat. Met tyd wen jy respek deur dade, nie deur argumente nie.”

Volgens haar moet jy soms dubbel so hard werk vir dieselfde erkenning en jouself telkens bewys voor ander jou ernstig opneem. “Ek het egter besluit om nie verbitterd te raak nie. Ek het gefokus op my werk, op resultate, en op hoe ek ander mense behandel.”

Deur haar eie styl van leierskap te ontwikkel – empaties, ferm en eerlik – het sy ’n ruimte geskep waarin sy gerespekteer word. “Dis ’n proses, maar elke dag bied ’n nuwe geleentheid om persepsies verder te verander.”

“Wat my die meeste van haar beïndruk, is haar doelgerigtheid en passie. Karlin droom groot – en sy werk hard om daardie drome waar te maak. Haar werksetiek is iets besonders, en sy bereik ongelooflike dinge sonder om ooit daaroor te spog. Sy bly sterk en getrou aan haarself en aan die pad wat die Here vir haar uitgelê het – in goeie én moeilike tye. Sy is ook ongelooflik lojaal – die tipe mens wat jy enige tyd kan bel, en sy sal alles los om jou by te staan. En dan is sy boonop hope pret: sy verhelder enige ruimte met haar energie, haar menswees en haar (soms flou, maar altyd snaakse) grappies. Die wêreld is beslis ’n beter en kleurvoller plek omdat sy daarin is – die lewe sou soveel minder sonder haar wees.

– Tilida

Raad vir vroue in dié bedryf

Karlin se eerste stukkie raad aan vroue wat hul pad in die wynbedryf wil baan, is eenvoudig: “Moenie bang wees om anders te wees nie.”

“Wees dapper genoeg om vrae te vra, om foute te maak, en om altyd met nuuskierigheid te leer. Werk hard, wees nederig en bou verhoudings. Hierdie bedryf gaan net soveel oor mense as oor wyn.”

Sy stel ook voor dat jy ’n mentor kry, en om oop vir te wees vir terugvoer.

“Wees altyd professioneel, selfs as die ander nie is nie. En onthou: jou uniekheid is jou grootste krag. Moet dit nooit verloor nie.”

Sy wens iemand het aan die begin van haar loopbaan vir haar gesê: “Jy hoef nie alles dadelik te weet nie, want groei neem tyd. Moenie jou pad met ander s’n vergelyk nie. Jou reis is uniek, en die klein treë tel ook.”

Sy sou ook graag wou gehoor het dat sy nooit haar kreatiwiteit hoef te onderdruk nie. “Soms raak mens so vasgevang in prosedures en verwagtinge, dat jy vergeet om uit jou hart te werk, maar dis juis jou passie wat jou laat uitstaan. Wees opgewonde oor waarmee jy besig is. Energie dryf passie. Wees altyd oop vir leer en ervaar.”

Sy bly staande

“Ek is trots op my werk en dankbaar dat ek elke dag iets kan doen waarvoor ek lief is. Dat ek my droom kan uitleef. Soms raak dit moeilik, maar ek is daagliks geseënd om iets te doen wat my hart bly maak. Ek weet dat die Here my die talente gegee het om my droom uit te leef. Ek is bewus van die ongelooflike geleenthede wat ek al in my lewe gehad het. En soms is dit net die wete dat ek môre weer ’n kans kry om dit beter te doen.”

“En natuurlik – ’n goeie koppie koffie of ’n glas wyn, my man wat my ondersteun, en kosbare hartsvriende maak alles soveel makliker.”

Sy hou aan groei

Karlin werk tans aan verskeie projekte by Vrede en Lust, van wyn-innovasie tot handelsmerk-ontwikkeling, en dit maak haar ongelooflik opgewonde. “Ek wil myself aanhou uitdaag en ander jong vroue inspan en inspireer om hul drome te volg.”

Sy werk ook daaraan om meer balans in haar lewe te bring met ruimte vir idees, rus en vernuwing. “Groei is vir my ’n lewenslange proses en ek wil altyd in beweging bly.”

×

Cart